Wie is ek?

pic_heartrock.jpg

Ná ek meer as 20 jaar lank ’n taalonderwyser was, het ek besluit om ’n kursus te volg wat my in staat sou stel om leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes te help. Daarna het ek in 1999 met my eie remediëringskliniek begin, aangesien ek in my skoolhoujare so dikwels leerders teëgekom het wat nie volgens hulle intelligensievlak kon lees of skryf nie en dit meermale gelei het tot akademiese mislukking, rebelsheid en gevoelens van waardeloosheid.

Ek het gedink ek sou sulke leerders kon help met hierdie bykomende kwalifikasie. Maar tot my grootste frustrasie moes ek uitvind dat die metodes wat ek gebruik het, soos klankinstruksie, nie die gewenste uitwerking gehad het op baie van hierdie kinders nie.

Toe het ek besef ek moet my kennis van sielkunde uitbrei om te probeer oplossings vind vir dié probleem. Dit het uiteindelik gelei tot ’n meestersgraad oor kinders met ’n leesversteuring en die sielkundige uitwerking daarvan op hulle. Die leesprogram van Ron Davis wat ek getoets het, is gebaseer op Neuro-Linguistiese Programmering (NLP) en multi-sensoriese metodes en het uiters beduidende resultate gelewer. Voorts het ek my bekwaam as hipnoterapeut en in Emosionele-Vryheid-Tegnieke (EFT) sowel as die Sedona-metode.

Ek het individue met lees-, spel-, konsentrasie en studieprobleme behandel. My leesprogram het verskillende tegnieke bevat. Ek het my kliënte geleer hoe om beheer oor hulle leesoriëntasie te verkry, daarby gevoeg leesoefeninge, dr. Linda Silverman se speltegnieke, konsentrasie- en ontspanningsoefeninge, oog- en breingimoefeninge en EFT, wat  baie goeie resultate opgelewer het. Ek het daarby ’n program gebied in studiemetodes aan diegene wat nie noodwendig leerprobleme het nie, maar wat bloot nie weet hoe om hulle werk te orden, navorsing vir take te doen en te leer vir toetse of eksamens nie.

Die terapie wat ek aangewend het, het hoop en ’n mooier môre vir almal gebied.

Geniet die besoek aan my webruimte.

René Engelbrecht