Artikels
Die volgende artikel wat ek geskryf het, is in die Afrikaanse dagblad Die Burger van 26 Januarie 2008 gepubliseer (bl. 15).
Wat het hulle gemeen?
Daar is hoop vir disleksielyers, skryf René Engelbrecht na aanleiding van die dislektiese tweeling van Somerset-Wes wat verlede jaar matriek met meriete geslaag het ondanks ’n leesvermoë van agtjariges.
Wat het May en Katie de Clercq van Somerset-Wes, die tweeling oor wie in Die Burger van 22 Januarie berig is, en Pablo Picasso gemeen?
Die waarskynlike antwoord is hulle kunsvermoë. Maar dan is daar ook iets anders – hulle disleksie. Hulle deel dit met Einstein, Leonardo da Vinci, Walt Disney, Tom Cruise, Keira Knightley, sir Richard Branson en Agatha Christie, om maar enkele bekendes te noem wat die hoogste sport in die lewe bereik het.
Disleksie dui allermins op ’n gebrek aan talent en intelligensie, net op ’n leesonvermoë. Tog maak ons vandag grootliks staat op die geskrewe woord.
Ofskoon verskeie metodes teen disleksie ingespan word, werk hulle eenvoudig nie ewe goed vir almal nie. Ek het dit self beproef as remediërende opvoeder. Naderhand het ek op die internet gaan soek om te probeer uitvind of daar nie iewers in die wêreld iets is wat wel kan help nie, en so op Ron Davis se webruimte afgekom. En ontdek: daar is hoop!
Boonop kos dit nie maande en jare se gesukkel nie.
Davis se uitgangspunt het my dadelik opgeval. Hy beskou disleksie as ’n aangebore gawe wat in die tweedimensionele wêreld van skrif ’n albatros om die nek word. Hierdie gawe gaan gepaard met verbeelding en kreatiwiteit, met probleemoplossing deur na die groter prentjie te kyk eerder as ’n analitiese stap-vir-stap-proses. Volgens hom dink dislektiese individue hoofsaaklik in beelde en nie in woorde nie. Soos die De Clercq-tweeling wat in “vorms” dink.
Dit is hierdie soort manier van dink wat Einstein op skool probleme gegee het, maar wat ook van hom ’n geniale wiskundige gemaak het.
Omdat hy self dislekties is, vertel Davis, het hy as volwassene op ’n dag uit pure frustrasie gaan sit en uitwerk waarom hy so sukkel om te lees en skryf, terwyl hy immers ’n meganiese ingenieur en amateurbeeldhouer was. Só het hy aan ’n idee begin werk om sy probleem te oorkom.
Hy en ’n opvoedkundige sielkundige, dr. Fatima Ali (Ph.D.), het toe in 1981 saam ’n program ontwikkel vir kinders en volwassenes met disleksie. Teen April 1982 het hulle die Davis Dyslexia Correction Center in Kalifornië geopen waar hulle dienste aan die algemene publiek beskikbaar gestel is – met wonderlike resultate.
Davis se boek, The Gift of Dyslexia, het in 1994 verskyn en in 1995 het hy die Davis Dyslexia Association International (DDAI) van stapel gestuur wat ten doel het om inligting oor die Davis-metode te verskaf, standaarde vir die Davis-program te stel en fasiliteerders op te lei. Sy volgende boek, The Gift of Learning, met bygewerkte oefeninge oor aandagtekort, wiskunde en skrif het in 2003 verskyn.
Davis se benadering sluit nie instruksie in wat op die klankbenadering gebaseer is nie, dit gebruik nie drilwerk nie en steun nie op spesiale fisieke apparaat soos grootdrukboeke en ook nie op medikasie nie.
Hy gebruik wel die individu se verbeeldingsvermoë, die feit dat die mens se brein herprogrammeerbaar is, multisensoriese tegnieke en kreatiwiteit.
Dis vir hom belangrik dat individue met disleksie beheer oor hulle eie leerprosesse verkry. Volgens Davis is dislektiese mense anders in die sin dat hulle dinge uit verskillende oriëntasiepunte sien – ’n eienskap wat hulle goed te pas kom in die wêreld van konkrete beelde, maar hulle in die steek laat wanneer hulle dinge moet interpreteer wat een- of tweedimensioneel is (soos skrif). Dan “disoriënteer” hulle.
Wat Davis se benadering so anders maak, is die feit dat hy individue deur verbale leiding en visualisering ’n oriëntasiepunt gee waarvandaan hulle kan fokus. Dit benader lees op ’n ander manier en is die hoofuitgangspunt van sy werk.
’n Baie belangrike faktor is verder dat dit help om mense se selfagting en selfvertroue herstel.
Op hierdie program het ek in 1999 afgekom, en ek het onmiddellik Davis se boek The Gift of Dyslexia bestel waarin hy die metode volledig uiteensit. Hoewel ek nie seker was of Davis se program wetenskaplik verantwoordbaar was en of ek dit sou kon uitvoer nie, het dit my gefassineer. Ek het dit intensief begin bestudeer. Deur bemiddeling van Abigail Marshall, Davis se webmeester, het ek toestemming verkry om Davis se tegnieke op my leerders toe te pas al was ek nie ’n opgeleide Davis-fasiliteerder nie.
My eerste proefneming was met ’n graad 4-leerder met disleksie. Haar remediëringsterapeut het ná ’n jaar van onderrig aan haar ouers gesê dat sy niks verder vir haar kan doen nie en dat sy waarskynlik nie in graad 3 sal slaag nie. Sy is egter oorgeplaas en dit was aan die begin van haar graad 4-jaar dat hulle by my kom hulp soek het.
Ek het hulle van Davis se metode vertel en dat ek dit nog nie self op die proef gestel het nie, maar dat ek hulle dogter gratis sal behandel as hulle hulle toestemming verleen dat ek die metode op hulle kind beproef. Hulle was teen dié tyd al desperaat en ek kon voortgaan. Taamlik gou was daar ’n beduidende verbetering.
Binne ’n paar weke kon die meisie beter lees en verstaan wat sy lees. Ook haar selfvertroue het toegeneem. Sy het boonop aan die einde van die jaar met ’n gemiddelde van 70% geslaag.
Van toe af het ek my op Davis se metode toegespits en talle leerders met leesprobleme daarmee gehelp.
Wêreldwyd behaal Davis-fasiliteerders uiters groot sukses met die kursus, maar daar was tot onlangs nie kliniese bewyse dat dit werk nie en daarom is dit nie orals deur kenners aanvaar nie. Omdat ek gesien het hoe goed leerders ná hulle kennismaking met Davis se program vaar, het ek besluit het om hierdie metode wetenskaplik te toets.
My idee was om te bewys dat Davis se metodes dislektiese individue kan help en dat dit as ’n aanvaarbare aanvullende of alternatiewe metode erken behoort te word.
Ek het van Davis se organisasie toestemming verkry om navorsing te doen op grond van die inligting in The Gift of Dyslexia en The Gift of Learning. Ek moes dit net duidelik stel dat ek slegs die metodes navors en nie die oorkoepelende tegnieke wat opgeleide fasiliteerders gebruik nie.
In 2004 het ek aan die Universiteit Stellenbosch navorsing vir my sielkunde-meestersgraad gedoen oor die invloed van die Davis-metodes op leerders se leesvermoë en hul sielkundige funksionering. Die resultate was wetenskaplik baie beduidend en het ook ’n suksesskaal van meer as 80% getoon. Dit was na onderrigsessies van net 14 uur.
Verlede jaar het ek op die internet kennis gemaak met dr. Linda Silverman, wat dieselfde uitgangspunt as Davis handhaaf en sy werk ondersteun. Sy is die direkteur van die Institute for the Study of Advanced Development en die Gifted Development Center in Denver, Colorado.
Sy het hoofsaaklik met begaafde kinders te doen en het die konsep “visueel-ruimtelike leerder” geskep.
Soos Davis, glo sy dat onderpresteerders dikwels begaafde leerders is wie se brein op ’n ander manier funksioneer. Sy het gemerk dat daar onder hierdie leerders baie kunssinniges is – dansers, akteurs, musici, kreatiewe skrywers. Daar is ook wiskundiges, wetenskaplikes, rekenaarkenners en entrepreneurs. Hulle soek en vind patrone in die lewe en is uiters opgewonde as hulle iets nuuts ontdek. Sommiges is uiters empaties en emosioneel met ’n besonder geestelike bewussyn.
In haar boek Upside-down Brilliance bespreek sy talle tegnieke om hierdie “visueel-ruimtelike” individue op hulle pad deur die wêreld van skrif te help.
Deesdae gebruik ek aanvullend sekere tegnieke van Silverman. Saam met die Davis-metode vorm dit ’n baie suksesvolle eenheid.
Hoewel hierdie metodes nie in Suid-Afrika algemeen bekend is nie, kan ouers hulle kinders self help deur middel van Davis se twee genoemde boeke. Sy webadres is http://www.dyslexia.com
Ek beveel ook Upside-down Brilliance aan. Verder is daar talle e-boeke beskikbaar op Silverman en haar medewerker, Allie Golon, se webruimtes, naamlik http://www.giftedevelopment.com en http://www.visualspatial.org Lesers kan ook met my in verbinding tree by 083 301 9999 of rene@rene-engelbrecht.co.za My webadres is http://www.rene-engelbrecht.co.za
Verwysings
Davis, R.D. (1997). The Gift of Dyslexia. New York: The Berkley Publishing Group.
Davis, R.D. (2003). The Gift of Learning. New York: The Berkley Publishing Group.
Silverman, L. K. (2002). Upside-down Brilliance. The Visual-Spatial Learner. Denver, Colorado: DeLeon Publishing.