Navorsing
TESISOPSOMMING
Gedurende 2004 het ek navorsing gedoen vir my meestersgraad in sielkunde oor kinders met leesprobleme. Die doel van my navorsing was om te bepaal of sekere Ron Davis-tegnieke wat die afgelope twee dekades in Amerika toegepas word deur die Davis Dyslexia Correction Center (www.dyslexia.com) op kort termyn ’n positiewe uitwerking op die leesvermoë en sielkundige funksionering van kinders met ’n leesversteuring kan hê, veral beskou teen die agtergrond van toenemende kommer oor die leesvermoë van Suid-Afrikaanse leerders oor die algemeen en leerders met ’n leesversteuring in die besonder.
’n Oorsig is gedoen oor die verskillende benaderings teenoor intervensie, die sielkundige modelle wat die Davis-tegnieke onderlê, moontlike oorsake van ’n leesversteuring en die invloed wat ’n leesversteuring op die selfbeeld van ’n kind kan hê.
Twintig Afrikaanse leerders in graad 5 tot 7 van ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes in die Wes-Kaap (Suid-Afrika) is ewekansig toegewys aan ’n eksperimentele en kontrolegroep. Hierdie leerders is almal voorheen gediagnoseer met ’n leesversteuring. Albei groepe is vooraf met vier meetinstrumente geëvalueer om hulle lees- en spelvlakke te bepaal. Ouers en opvoeders moes ook vooraf sielkundige vraelyste invul sodat die kinders se sielkundige funksionering bepaal kon word.
Hierna het die deelnemers van die eksperimentele groep ’n intervensieprogram gebaseer op bepaalde Davis-tegnieke ontvang. Dit het bestaan uit sewe weeklikse sessies van twee uur elk. Die kontrolegroep het geen intervensie ondergaan nie. Na die intervensie is albei groepe weer met dieselfde vier meetinstrumente geëvalueer en die opvoeders en ouers moes ook weer die sielkundige vraelyste invul.
Die ouers en opvoeders moes ook voor die intervensie demografiese vraelyste invul wat deur die navorser opgestel is en gestruktureerde onderhoude aan die hand van soorgelyke vraelyste is met die deelnemers in die eksperimentele groep gevoer. Op grond hiervan is ’n profiel van die kind met ’n leesversteuring opgestel.
Die data is ontleed deur middel van die Mann-Whitney U en Wilcoxon Signed-Rank nieparametriese toetse. Die resultate van die Wilcoxon-toets het daarop gedui dat daar beduidende verbeterings was ten opsigte van die eksperimentele groep se lees- en spelvermoë en ook sielkundige funksionering. Opvolgtoetsing is 12 weke later gedoen en die resultate het daarop gedui dat die verbetering volgehou is al het 70% van die deelnemers nie op hulle eie met die program volhard nie.
Daar kan dus gesê word dat die Davis-tegnieke op kort termyn ’n positiewe uitwerking op die deelnemers se leesvermoë en veral ook hulle sielkundige funksionering gehad het en dat die effek volhoubaar was. Dit baan die weg vir verdere studie op hierdie gebied. Daar word voorgestel dat die tegnieke as alternatiewe leesversteuringsintervensie erken word, veral in die lig van die voorkoms en uitwerking van leesversteuring op kinders en volwassenes in Suid-Afrika, en ook wêreldwyd.
VOLLEDIGE TESIS
Die volledige tesis is hierby aangeheg as PDF-lêer. Dit is belangrik dat kopiereg in ag geneem word. Alle regte word voorbehou. Geen gedeelte van hierdie tesis mag sonder skriftelik verlof van die outeur gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopieëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of –ontsluiting.
Volledige tesis (PDF formaat)